Gerippe. Carcass.

Wat is mediasie?

Mediasie is 'n proses waar twee of meer persone met die bystand van 'n neutrale mediator ontevredenheid, dispute en konflik in 'n veilige gespreksomgewing bespreek en waar die uitkoms in die hande van die partye self lê.

Watter dispute kan medieer word?

Alle dispute kan medieer word, maar in sommige gevalle, byvoorbeeld kriminele sake, finale bevele van egskeiding, sekwestrasies van persone en trusts en likwidasie van maatskappye, ens. moet die finale stap na die Hof gaan. Daar is sekere bepalings in die Kinderwet wat mediasie verpligtend maak. Daar is ook  regsaspekte waarop net regspraktisyns advies kan gee. 'n Mediator het 'n plig om partye na regspraktisyns te verwys  wanneer sekere regsaspekte belangrik word. Die meeste van die aanvanklike stappe in hierdie prosesse kan medieer word en slegs die finale stap gaan na die Hof.

Hoe vergelyk die koste van mediasie met regskoste?

Mediasie is 'n informele proses wat vinnig en goedkoop hanteer kan word. Die koste daarvan is dus minder as hofprosesse.

Waar vind ek 'n mediator?


Ek lewer professionele mediasie dienste en u kan my per telefoon, Whatsapp of epos kontak. Ek vorm deel van 'n netwerk van mediators en kan u na een van hulle verwys indien u dit verkies.

Wat kos mediasie?

Kontak my vir 'n kwotasie. Daar mag addisionele kostes wees, byvoorbeeld reiskoste, verversings en die gebruik van 'n lokaal. Koste word so laag as moontlik gehou. 

Is die proses konfidensieel?


Beslis! Tensy die partye skriftelik toestem dat die inligting wat tydens die mediasie teenoor buitestaanders openbaar mag word, is al die partye, insluitend die mediator verplig om dit konfidensieel te hou. Geen inligting wat tydens die mediasie uitgeruil word mag in 'n Hof, arbitrasie of ander prosesse gebruik word tensy die reg dit vereis.  

Indien 'n misdaad gepleeg is, sal dit ook konfidensieel hanteer word?


Sekere wette van die land verplig persone om misdaad aan te meld. Die Kinderwet bevat sekere bepalinge wat sodanige plig oplê. Die partye moet die mediator voor die aanvang van die sessies inlig dat sodanige inligting moontlik openbaar mag word en die mediator sal dan besluit of die sessies kan voortgaan aldan nie.

Hoe word ek beskerm teen die ander party wat meer geld en mag het en wat my in die sessie boelie?


Die mediator het 'n plig om seker te maak dat elke party gelyke behandeling geniet en ‘n gelyke kans het om deel te neem. Die mediator sal die proses bestuur sodat die belange en behoeftes van al die partye gelyke erkenning geniet.

Mag ek die mediasie sessies beëindig?

 Ja. U het die mediator gekies om onafhanklike en professionele diens te kry. Indien u dit oorweeg om dit te beëindig, word u versoek om die mediator die geleentheid te bied om die redes vir die besluit te oorweeg en aan te spreek. Die probleem word gewoonlik dadelik aangespreek en opgelos en die partye kan voortgaan om 'n positiewe oplossing te vind. 

Wat is die howe se houding jeens mediasie?

Die hofreëls verplig partye om mediasie te oorweeg. Indien partye versuim om dit te doen kan die hof sy misnoeë uitspreek deur die party/e hul koste te ontneem. Partye kan op enige stadium in die hofproses na mediasie oorslaan en die partye bly in beheer van die uitkoms.

Wat is die aard van die verhouding tussen die howe, mediators en regspraktisyns?


Dit behoort altyd goed te wees. Die howe verwelkom mediasie en professionele mediators kan dispute aanspreek voordat die hofprosesse begin en enige tyd daarna. In sommige gevalle is beide mediators en regspraktisyns nodig om dispute by te lê.

Mag prokureurs en advokate my bystaan?

Ja. Mediators lewer nie regsadvies nie. Daar is sekere regsaspekte in veral egskeidings wat net deur regspraktisyns hanteer kan word. Hulle mag u van advies bedien. Hulle behoort egter nie namens u te praat nie aangesien die konflik van persoonlike aard is en u persoonlike deelname van kritieke belang is. In kommersiële dispute mag dit anders wees. Die mediator sal die rolle tydens die mediasie proses verduidelik.

Watter metodes word gebruik?

Persoonlike sessies word verkies. U kan ook Zoom en Microsoft Teams op u selfoon, tablet en rekenaar gebruik. Sorg net vir genoeg data. Indien u tegniese probleme ervaar kan ons u moontlik bystaan. U moet net die gratis weergawe van TeamViewer op u toestel aflaai.